Daar is iets poëties aan die jong meisie waar sy staan met die rooi ballon, asof dit nét sy en die rooi ballon is. Die ballon sweef bo haar en sy hou haar kop agteroor om die ballon te sien. Die toutjie waaraan die ballon vas is, is stewig in haar hand vasgeklem.
Jack wonder hoe oud sy is. Verseker te jonk om alleen in die park te wees. Hy kyk rond, maar sien niemand aan wie die jong krulkop kan behoort nie. Waar sal haar ouers of oppasser wees? Die park is in die middel van ’n besigheidsentrum; daar is nie enige wonings in die omgewing nie. Sy moes saam met iemand hierheen gekom het.
Jack voel net so alleen soos die meisie met die rooi ballon lyk. Sy is onbewus van die fietsryers in die park; sy sien nie eens die ander kinders wat jillend hardloop en speel op die apparate raak nie. Haar oë bly gerig op die ballon. "Sal ek haar vra of alles reg is, waar haar ouers is?" wonder hy. Dalk het sy weggedwaal en is haar ma of oppasser naarstiglik op soek na haar.
Deesdae moet ’n mens ook so versigtig wees. ’n Jong meisie, ’n kind, alleen, en ’n volwasse, onbekende man by haar. Op die oog af kan dit nie goed lyk nie.
Hy probeer weer sy aandag op die oop boek in sy hand vestig; dit het vergete op sy skoot gelê toe hy die meisie opgemerk het. Sy oë gly traag oor die woorde en hy vind homself weer na die kind kyk.
Waarom staan sy net daar? Wat is dit met haar en die vervlakste ballon?
Die toneel voor hom hou sy aandag gevangene. Die meisie draai haar gesig effens na hom en hy sien die traanstrepe duidelik oor haar wange, haar neus rooi en haar oë geswel. Hy herken die hartseer tekens in haar trane.
Sy prewel iets, net-net hoorbaar vir hom, en toe laat sy die ballon gaan.
"Ta-ta, Mamma."
Hy volg haar blik, en toe eers sien Jack die jong man, alleen op ’n bankie. Sy oë, gevestig op die meisie, dra dieselfde hartseer as hare. Sy trane vloei vrylik terwyl die meisie haar oë op skrefies trek om die ballon te sien verdwyn. Eers toe die ballon nie eens meer ’n spikkel in die verte is nie, draai sy na die jong man toe. Hulle omhels mekaar en beide se rou snikke bring ’n brand in Jack se keel.
Dié twee se onbeheerde hartseer en die kyk in die kind se oë toe die ballon verdwyn, breek skanse in Jack se harde geaardheid. Saam met die ballon het sy nie net afskeid van haar ma geneem nie, maar die seer het ook ’n deel van haar kinderlike onskuld geneem.
Annette Havenga ©
Foto deur Koedoe App

Comments
Post a Comment