Episode 2
Die Gif in Die Bloedlyn
Die reuk van duur leer en ou wraak hang in Lucian Valois se kantoor soos ’n swaar mis. Lucian staan by die venster en kyk uit oor die liggies van Parys. Sy gedagtes is duisende kilometers ver, by die rooi grond van die Boland. Hy leef al jare saam met die Dumonts, op die agtergrond, geduldig. Sy wraak gaan uiteindelik vol sirkel bereik met Julian se hulp. Nie Julian of Celine weet hoe diep sy obsessie met Jean-Pierre Dumont strek nie. Hy sal nie rus voordat Mon Trésor onder die Valois naam staan nie, sy finale wraak, al is Jean-Pierre nie meer hier om dit te sien nie.
Destyds was dit sy oortuiging wat Julian uit Jean-Pierre se lewe gehou het. Celine en haar seun pionne in sy spel, alles in die naam van wraak, en nou gaan hy dit weer eens tot sy voordeel gebruik. "Onthou hoekom jy daar is, Julian. Die Dumonts het alles gesteel wat joune moes wees. Hulle leef in weelde en geluk op Mon Trésor. En jou ma, sy is alleen en bitter. Jean-Pierre het haar weggewerp soos ’n slegte oes. Ek is die een wat vir jare haar briewe aan hom moes gaan pos het, byna elke dag een."
Julian se stem is stem vol ingehoue woede. Celine Valois, sy ma is soos 'n skim in die huis. Min dinge laat haar glimlag. "Ek sal hulle nie laat vergeet nie, Lucian. Ek gaan elke klip van daardie plaas terugvat. Mila, Lea... hulle gaan weet hoe dit voel om niks te hê nie.”
Lucian se gedagtes het vir 'n oomblik op die twee jong gesigte van Mila en Lea getalm, hy gebruik weer eens 'n ma en haar kind as troefkaarte. Net, die keer is dit veel nader aan sy eie hart. Maar Lucian is nie bang vir die donker nie. In teenstelling met Mila se Chardonnay, haar trots, sag en lig, lê die krag van die Valois wyne in die struktuur. Die krag van die Valois wyne is genestel in tanniene wat byt.
Lucian draai om, hy sit ‘n hand op Julian se skouer. "Goed. Wees die seun wat Jean-Pierre nooit waardig was nie. Gaan Mon Trésor toe, dra die naam soos ’n strop om hulle nekke. Die druk, bedoel as ’n bemoediging, dien vir Julian as ’n waarskuwing. Sy oom duld nie mislukkings nie, hy is gehard en dit wys in die manier waarop hy elkeen van die wynplase onder die Valois-vaandel bestuur. ’n Ysterhand, elke landgoed dra sy stempel van sukses.
Lucian hou die glas teen die lig. Die wyn, so donker, dit is amper swart, 'n Petit Verdot wat bekend was vir sy harde tanniene en ongenaakbare struktuur. Dit is nie 'n wyn wat gevlei het nie; dit is 'n wyn wat gedwing het. Net soos die man wat dit gemaak het. Lucian glo nie in sagtheid nie, nie in sy kelders nie, en nog minder in sy familie. Hy het die druiwe gebuig tot hulle sy stempel dra, presies soos hy met Julian gedoen het.
"En onthou... ek is die enigste een wat werklik aan jou kant is."
Die hekke van Mon Trésor gaan swaar en imposant voor Julian oop. Hy kyk na die wit gewels wat teen die blou berge pryk. Vir ’n oomblik maak sy woede plek vir ’n vreemde, verlore verlange. Hy wonder oor die man oor wie sy ma steeds treur. Na die nuus van sy dood het sy verder in haar verdriet weggesak. En sy oom, hy was broeiend. Julian ken hom goed en het geweet wat daaragter skuil. Hy is besig om perfek beplande planne in werking te sit. Hy wonder watter geheime Lucian met homself saamdra. Nie dat hy dit ooit sal durf om Lucian uit te vra oor sy verlede met die Dumonts nie. Vir hom is Jean-Pierre die man wat hom en sy ma verwerp het. As dit nie vir Lucian was nie, hy is die een wat die stukke opgetel het.
Die swart huurmotor kom met 'n stadige knars op die gruispad voor die groot opstal tot stilstand. Die enjin luier ‘n oomblik, 'n moderne gedreun wat vreemd klink teen die stilte van die wingerde, voordat dit uitgedoof word.
Julian klim nie dadelik uit nie. Hy kyk deur die venster op na die wit gewels van Mon Trésor.
"Mon Trésor," fluister hy sag, die Franse woorde rol glad oor sy tong. "My skat."
Die bestuurder stap om en maak die deur oop. "Ons is hier, meneer, Mon Trésor."
Julian klim uit. Sy skoene knars op die gruis, die klank van iemand wat nie meer vra vir toegang nie, maar dit neem. Hy skep ‘n diep asemteug; die lug ruik na klam grond, ryp druiwe, sukses en ’n ryk erfenis.
Hy kyk op na die huis met ’n mengsel van haat, jaloesie en ’n vreemde, verlore verlange.
"Ek is uiteindelik tuis, Pa. Maar ek is nie hier vir ’n reünie nie."
Hy gee die bestuurder 'n stywe fooitjie sonder om te kyk. "Jy kan gaan. Ek dink ek gaan lank hier bly."
"Verwag hulle u, meneer?" vra die bestuurder terwyl hy die tas uithaal.
Julian gee 'n stadige, koue glimlag terwyl hy sy baadjie regtrek. "Nee, dit is ’n verassing vir die ... my, familie.”
Hy kyk na die voordeur, waar hy die skaduwee van iemand agter die gordyn gewaar.
Die swaar eikehoutdeur van Mon Trésor gaan oop nog voordat Julian kan klop. Mila lyk bleek en verward, haar oë vol vrae terwyl sy die vreemdeling dophou wat so selfversekerd op haar stoep staan.
"Kan ek u help?" vra sy, haar stem onseker.
Julian haal stadig sy sonbril af, hy glimlag nie, maar kyk haar stip in die, oë wat presies soos syne lyk, al besef sy dit nog nie.
"Ek is hier om die res van my familie te ontmoet.” Sy Afrikaans is vloeibaar, maar die Franse afronding is onmiskenbaar. "My naam is Julian Dumont."
Dit is ’n swaar stilte wat volg. Mila stap agteruit asof hy haar fisies geslaan het. Stefan verskyn uit die studeerkamer, sy gesig reeds verhard in 'n masker van wantroue.
"Dumont?", sy stem 'n lae grom. "Daar is geen ander Dumont familie-lede oor nie en Jean-Pierre het nie 'n seun gehad nie."
Met ’n glimlag tree Julian vorentoe, verby Mila, tot binne-in die voorhuis. Hy neem die ruimte in asof hy die argitek daarvan was. "Jean-Pierre het baie dinge gehad waarvan hy nie vir julle vertel het nie, Dokter. Maar moenie bekommerd wees nie... ek het al die papierwerk saamgebring om julle geheue te verfris."
Dit is stil aan tafel waar Julian langs Lea sit. Stefan haal nie vir ‘n oomblik sy oë van Julian se gesig af nie. Die frons tussen sy wenkbroue het sedert Julian se aankoms vroeër nog glad nie gewyk nie.
Julian het die dokumente uitgehaal, sy uitdrukking ernstig. Vir die susters was dit soos iets uit ’n droom, ’n Broer? Lea het Stefan se skeptiese oordeel gedeel. Vir beide is die bestaan van ’n verlore broer minder as ideaal. Hulle vertrou nie dié vreemdeling nie. Waarom is hy hier?
Mila se gedagtes was ’n warboel. Het sy ooit wérklik haar pa geken? Nie net het hy haar ma en suster se bestaan van haar weggesteek nie, maar blykbaar ook die van haar broer. Sara het stil aangegaan met die voorbereiding van ete. Effens opgewonde oor die vooruitsig van iemand om die Dumont naam voort te dra. Willem het egter glad nie haar entoesiasme gedeel nie. Hy was brommend en sy kan skaars uitmaak wat hy sê voordat hy by die deur uit is. “,,, blik wurms oopgemaak. Jean-Pierre se geheime … skok vir onse Mila.”
Julian lig sy glas Chardonnay, Mila se trots. "’n Uitstekende oes," hy swaai die vloeistof rond. "Jean-Pierre sou trots gewees het op die kwaliteit. Dis net jammer hy was so... selektief... met wie hy sy rykdom gedeel het."
Stefan se hand sluit om sy mes. "Jy praat baie van ’n man wat jy nooit geken het nie, Julian. Dokumente kan vervals word. Herinneringe nie."
Julian leun vorentoe met ‘n glimlag. "O, maar ek het herinneringe, Stefan. My ma het my alles vertel, van die isolasie, hoe Jean-Pierre haar in daardie ryk Franse villa agtergelaat het soos 'n skande wat hy wou vergeet. Sy het vertel hoe hy verkies het om hier op Mon Trésor koning te speel met 'n nuwe lewe, terwyl hy haar en sy eie bloed aan haar eie genade oorgelaat het."
Julian se stem is koud. "Sy was goed genoeg vir sy bed in Parys, maar nie goed genoeg vir sy naam in Suid-Afrika nie. Al haar briewe. Onbeantwoord, Jean-Pierre se stilte het haar elke dag net dieper laat wegskink in ’n wêreld van stilte en sy moet elke dag leef met die wete dat sy vir hom niks meer as 'n ongemaklike herinnering was nie.”
Lea se stem klink kil en yskoud. "Watter briewe, Julian? Want ons het Jean-Pierre se hele argief nagegaan. Daar is niks van ’n vrou in Parys nie. Niks van ’n seun nie."
Julian se glimlag wankel nie. "Miskien het julle nie op die regte plekke gekyk nie, Lea. Of miskien het iemand seker gemaak daardie plekke bestaan nie meer nie."
Marguérite dwaal doelloos rond in die tuin van haar nuwe Franse villa-tuiste. Sy probeer om haar dogters te, maar haar foon het geen sein nie. Volgens Lucian is dit die dik mure van die ou kasteel, maar sy weet van beter. Lucian maak seker daar is nie kontak tussen haar en enige iemand op Mon Trésor nie. Julian se aankoms daar moes ’n reuse skok vir hulle gewees het, en sy kon hulle nie eens waarsku nie.
Sy vind hom in die biblioteek, besig om op ’n kaart van Suid-Afrika te kyk.
"Lucian, ek moet met my kinders praat, “haar stem ferm ten spyte van die vrees in haar hart.
Lucian kyk nie eens op nie, “Hulle is besig, Marguérite. Hulle leer ken hulle nuwe broer. Is dit nie wat jy wou hê nie? Dat die familie weer heel moet wees?"
Marguérite voel weer eens die yskoue hand van vrees om haar hart klem. "Wat het jy gedoen, Lucian? Wat het jy vir Julian gesê?"
Lucian staan stadig op, hy stap na haar toe, sy oë doelgerig op hare. Hy neem haar gesig in sy hande, ’n gebaar wat liefdevol moes wees, maar vir haar soos ’n dreigement voel. "Ek het hom net die waarheid vertel, skat. Jou en Jean-Pierre se waarheid, ons waarheid, Celine se waarheid. En nou gaan hy sorg dat Mon Trésor uiteindelik in die regte hande beland."
VOLGENDE IN
DIE SKADUWEE OP MON TRĖSOR
EPISODE 3
By Mon Trésor maak Stefan gebruik van die stilte om in Jean-Pierre se studeerkamer rond te sluip. Hy het die geheime laai ontdek toe hy die kantoor ingerig het vir homself. Mila was gretig om dit vir hom gemaklik te maak op Mon Trésor. Sy weet nie van die laai nie. Tussen die handjievol dokumente was daar ’n ou mediese lêer van Jean-Pierre.
Stefan blaai vinnig deur die bladsye tot hy by die resultate van ’n toets kom wat Jean-Pierre jare gelede laat doen het. Die verslae is in Frans. Hy neem ’n foto en vertrou op sy foon se Kunsmatige Intelligensie om die vertaling vir hom te behartig. Sy asem steek in sy keel vas.
As hierdie resultate waar was, kon Jean-Pierre nooit Julian se pa gewees het nie. Maar dit het ook iets anders beteken... iets wat die hele Dumont-bloedlyn in twyfel trek.
Dan is Mila en Lea ook nie Dumonts nie.


Comments
Post a Comment